Die Hoërskool Sentraal se aanlynkoerant poog om sy lesers met vars nuus op die hoogte van sake te hou. Daar word oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe verslag gedoen. Die berigte spreek van ’n hoogstaande gehalte, en Tralietrots word voorop gestel.
Hou jy daarvan om met woorde te toor? Is ’n kamera dalk deel van jou daaglikse uitrusting? Geniet jy dit om kreatief en skeppend te wees? Dan is die Tralie Varia jou tweede tuiste.
Die redaksie bestaan uit ’n groep uiteenlopende persoonlikhede waar elkeen die geleentheid kry om sy of haar stempel af te druk. Die redaksielede voer onderhoude, skryf, en redigeer berigte onder leiding van ’n groep onderwysers wat passievol joernalistieke vaardighede onder die leerders kweek.
Die kernredaksie poog om die standaard en kwaliteit van elke berig te verhoog om sodoende geloofwaardige nuus, wat Tralietrots uitstraal, te lewer.
Die Tralie Varia het die afgelope paar jaar puik prestasies behaal met betrekking tot die Media 24 Nasionale Skoolkoerantkompetisie. In 2010 behaal die koerant ’n 5e-plek, in 2011 en 2012 die 2e-plek en in 2013 maak die koerant geskiedenis deur die kompetisie te wen. Tydens 2014 se kompetisie beklee die koerant ’n 1e-plek in die Vrystaat en ’n 3e-plek nasionaal. In 2015 is die Tralie Varia weer onder die top 10 skoolkoerante aangewys. In 2016 word dié kompetisie uitgestel na 2017.
Die eerste uitgawe van 2017 was ’n reuse sukses. Die gedrukte kopie het ’n 5e-plek in OnsKan24 en Media24 se Nasionale Skoolkoerantkompetisie behaal. Dit spreek van harde werk, deursettingsvermoë en Tralietrots.




