Skip to main content
Kontak:
anneri@sentraal.co.za
Anneri Mulder

.

Die Akademiese Vereniging (AV) bestaan uit die top tien leerders van graad 10 tot graad12.

 

In die einde van graad 9 word die top tien van die graad uitgenooi om deel te word van die vereniging. In graad 9 het alle leerders nog dieselfde vakke en staan dus ’n gelyke kans om deel te word van hierdie prestige organisasie.

Die AV is ’n eksklusiewe organisasie wat in die akademiese bevordering van elke leerder aan die Hoërskool Sentraal glo. Die AV bied ’n platform vir leerders om oor die akademiese welstand en toekoms van die skool te debatteer en droom. Die AV is ook in beheer van vele projekte rakende die insameling van leerderstatistiek en proefsteke.

Vrydag inspirasie
Op Vrydaeoggende vergader die AV voor skool. Hier doen ons beplanning rakende al ons projekte maar geniet ook gereeld die positiewe pitkos van verskeie plaaslike motiveringssprekers.

Jeugberaad
Elke jaar word 400 top leerders / hoofleiers van meer as 35 skole uit die platteland genooi om hierdie spoggeleentheid by te woon. Tydens hierdie geleentheid word daar gedebatteer oor relevante besprekingspunte, dinkskrums gehou, na gassprekers geluister en heerlike geleenthede geskep vir sosialisering. Met ’n groot borg soos die NWU PUKKE is hierdie geleentheid reeds vir meer as 10 jaar ’n beduidende sukses.

Mentorskap
Die AV bied gedurende die akademiese jaar ’n mentorskapprogram onder die leerders aan die Hoërskool Sentraal aan. AV-lede wat sterk presteer in sekere leerareas stel hulleself beskikbaar om as mentors vir Tralies wat remediërende leiding in sekere areas van hulle vakgebiede nodig het. Hiervoor word daar tyd in die middae afgestaan en selfs oor naweke tref sommige leerders reëlings om bymekaar uit te kom. Alhoewel dit hoofsaaklik die plig van die opvoeders is, is dit vir sommige leerders makliker as iemand uit sy eie portuurgroep ook kan help om sekere aspekte van ’n leerarea kan verduidelik. Die AV help graag waar hulle kan en gee ook op hierdie manier terug.

Liefdadigheid
Die AV is betrokke by verskeie liefdadigheidprojekte. Die AV voel dat dit baie belangrik is om terug te gee aan die gemeenskap. Die AV het in die verlede onder meer teddiebere ingesamel en vir minder bevoorregte kindertjies geskenk, fondsinsamelings gehou en besoeke aan ouetehuise afgelê en is altyd bereid om uit te reik na die wat dit nodig het.

 

Toere
Lede van die AV besluit elke jaar self waarheen hulle wil toer. Hierdie toer is nie net hulle beloning vir die harde akademiese werk wat hulle jaarliks doen nie maar ook ’n geleentheid om meer van ons land en sy mense te leer. Daar heers altyd ’n wonderlike gees op hierdie toere en word deur die lede beskryf as hulle beste herinneringe.

Boskamp
Gedurende die eerste week van Oktober breek die AV-lede weg na die Oos-Vrystaat. Hierdie naweek word toegewei aan verskeidenheid van aktiwiteite alles in die gesindheid van AV-gees. Ons doen beplanning vir die nuwe jaar en vind weer onsself in die pragtige natuurskoon van Meiringskloof Natuurpark.