ATKV-jeugtak
Die ATKV het tans 285 takke landwyd, waarvan 103 jeugtakke is. ATKV-jeugtakke is ‘n struktuur van leerders wat ‘n passie vir Afrikaanse taal en kultuur het, en die geleentheid benut om in Afrikaans projekte en aktiwiteite aan te pak. Behoeftes word daadwerklik aangespreek op grondvlak, nie net in die skool nie, maar ook in die gemeenskappe waarin hulle funksioneer.
Jeuglede word aangemoedig om hulle eie unieke talente en belangstellings in hierdie veilige struktuur te ontwikkel. Persoonlike groei vind plaas, kennis word verbreed, nuwe kultuurvriende word gemaak, leiereienskappe word ontwikkel en hulle kulturele bewustheid en waardering vir hul omgewing verdiep.
Ons jeugtakke reg oor Suid-Afrika het sterk, jong stemme wat ‘n groot bydrae lewer tot hul skool en gemeenskappe, maak nie saak hoe klein of hoe groot nie. Jeugbetrokkenheid is prettig, innoverend, kreatief en vol interessante lekkerte.
ATKV-jeugtakke skep ‘n besonderse tuiste vir Afrikaans en vir kultuur, en leerders wat deel vorm van ‘n jeugtak deel in die verandering wat ons in Suid-Afrika wil sien. Die jeug is inderdaad ons toekoms, en ons land se grootste bate om te verseker dat ons taal groei.
ATKV… hier klop ons hart in Afrikaans.











